GESKIEDENIS VAN DIE GEREFORMEERDE KERK LYTTELTON

Tot 1950 was die gebied ten Suide van Pretoria tot by Kemptonpark deel van die Gereformeerde Kerk Pretoria. Die kerk in Kerkstraat, Pretoria, oorkant die Paul Krugerhuis. By baie bekend as Oom Paul se Kerk.
Op 14 April 1950 het die Kerkraad 'n kommissie aangewys wat saam met die kerkraadslede van Lyttelton en Voortrekkerhoogte se wyke moes ingaan op die moontlikheid om 'n saal in Lyttelton te bou of oor te gaan tot afstigting van die gebied ten Suide van Pretoria. Daar word op afstigting besluit.
Op 7 Maart 1953 het 165 belydende lidmate woonagtig in Lyttelton en 78 te Voortrekkerhoogte, afgestig van die Gereformeerde Kerk Pretoria en die Gereformeerde Kerk Pretoria-Suid gevorm. Ds S.C.W. Duvehage, predikant van Pretoria, was die eerste konsulent. Op 10 Junie 1953 word 'n wyk van Pretoria-Wes, bestaande uit 15 lidmate bygevoeg.
As bruidskat het die nuwe gemeente twee erwe in Lyttelton en 3000 pond(Ongeveer R6000,00), ontvang.
Ds P.J de Wet word as eerste predikant van die gemeente Pretoria-Suid op 6 Februarie 1954 bevestig. Hy dien in die gemeente tot 15 Augustus 1956.
Op 23 Januarie 1957 besluit die Kerkraad om 'n kerk te bou met sitplek vir 300 mense. Die argitek, Mnr Johan de Ridder is versoek om die plan op te stel. Die koste moes nie R20000,00 oorskrei nie. Na 'n besluit van die Kerkraad gedurende Oktober 1957 om die gebou met 50 sitplekke te vergroot is die begroting aangepas maar moes nie R26000,00 oorskrei nie.
Die simboliek agter die ontwerp van die kerkgebou is ontleen van die uittog van die Israeliete uit Egipte. Die Tabernakel was die huis van God terwyl die Israeliete op trek was. Dit was in die vorm van 'n tent. Vandag is die Kerk van Christus nog steeds op trek deur die woestyn van hierdie lewe op pad na die ewige heerlikheid. Om aan hierdie gedagte uiting te gee het Mnr de Ridder die kerk in die vorm van 'n tent ontwerp. Die dak span soos seile oor die staalkappe en gee die indruk van 'n volledige tent wat op die grond geanker is, met toue.
Ds D.J. van der Walt, Oom Dirkie, word op 30 Januarie 1955 as medeleraar vir Pretoria-Suid beroep. Hy word op 17 April 1955 bevestig by Pretoria-Suid maar verrig ook kapelaansdienste by die destydse Suid-Afrikaanse Weermag. Hy dien tot 26 Mei 1957 toe hy predikant word by Voortrekkerhoogte met opdrag bediening in die SAW.
Vervolgens word ds. A.J. Pelser op 7 Desember 1957 as predikant van Pretoria-Suid in kombinasie met Derdepoort bevestig.Ds Andries Pelser emiriteer op 12 Desember 1985 na 'n dienstydperk van 28 jaar. Hy is in Januarie 1989 in Pretoria oorlede.
Op 10 Maart 1966 besluit die Kerkraad dat die naam van die gemeente verander moet word na die Gereformeerde Kerk Lyttelton.
Die gemeente het dermate gegroei dat die Klassis op 7 April 1975 die afstigting van 'n nuwe gemeente goedkeur.Die afstigting vind plaas op 1 Junie 1975 en die nuwe gemeente staan aanvanklik bekend as Verwoerdburg-Oos.
Proponent Hentie Kruger kom in Mei 1985 by die gemeente aan terwyl hy besig is met diensplig te Voortekkerhoogte. Agv die swak gesondheid van ds. Pelser neem proponent Kruger alreeds vanaf Mei 1985 die dienste by GK Lyttelton waar. Nadat ds. Pelser sy emiritaat aanvaar het, word proponent Kruger beroep en word hy as leraar bevestig op 23 Maart 1986.
Intussen het die getalle van die gemeente meer geword en is daar tydens 'n gemeentevergadering na 'n verkiesing besluit om proponent M.J. Easmus te beroep as tweede leraar. Ds Erasmus word bevestig op 23 Januarie 2000. Aan die einde van 2002 het dit geblyk dat die gemeente moeilik twee predikante sal kan onderhou en is met die proses begin om een van die predikante beroepbaar te stel. Die proses is nie voltooi nie want op 2 Desember beroep Koedoesrand ds. Erasmus en lig hy die Kerkraad in dat hy van voornemens is om die beroep te aanvaar. Na 'n dienstydperk van, op 'n week na, drie jaar lewer hy sy afskeidspreek op 19 Januarie 2003.
Gedurende 'n Kerkraadsvergadering in Mei 2002 het die Kerkraad na deeglike besinning en intensiewe Skrifbestudering van bykans twee jaar die besluit geneem dat lidmate wat dit vekies, tydens Nagmaal van kelkies ipv die beker gebruik kan maak. Hierdie gebruik het tydens die Nagmaal van 17 November 2002 in werking getree.
Na die Sinode besluit van Maart 2003 tov vroue in die amp word suster Mariska Scholtz, die eggenote van diaken Erick Scholtz as die eerste vorulike diaken van die gemeente op 18 April 2003 tydens die oggenddiens, bevestig.
Die 50 jarige Dankseggingsfees van GK Lyttelton word op 16 en 17 Augustus 2003 gehou. Die Nagmaal op Sondag17 Augustus word gelei deur Professor Koos Vorster en die feesvieringe word die Sondag afgesluit met 'n groot ete na Nagmaal.
s Kruger ontvang gedurende Desember 2008 'n beroep na die GK Bultfontein, wat hy aanvaar. Hy lewer sy afskeidspreek op Sondag 25 Januarie 2008.
Die Kerkraad beveel by die gemeente aan dat daar deeglik besin word oor die beroeping van 'n predikant. Na wye konsultasie lĂȘ die Kerkraad 'n tweetal voor aan die gemeente en op Sondag 22 Februarie word Ds. Christo Swanepoel van GK Nylstroom  verkies. Die Kerkraad gaan dadelik tot die beroeping oor en Ds Swanepoel word op Sondag 2 Augustus 2009 in die amp bevestig deur die konsulent, Ds Gerrit Kruger van die GK Centurion.