Ses en twintig Stuks jong werkendes, sommige met klein kindertjies het die afgelope langnaweek die Dopperparlement se kamp by Shangrila Inni Bos bygewoon.
Wat ‘n gewoel en werskaf. Van die ouens het nog nooit ‘n tent opgeslaan nie en kom eers halfpad deur die opslaan proses agter dat die raamwerk van hul tent kleur gekodeer is en begin van voor af. Mens hoor die volgende: Magrieta staan met 'n pennetjie in haar een hand en en een van die raamwerkpype in die ander. "Wat moet ek hiermee maak?" Helena antwoord "steek die pennetjie in die pyp."  Margrieta: "Maar hoe? Othou ek dink abstrak" Helena: "Vat die pennetjie so en steek dit so in die pyp" Magrieta: "O, maar jy dink ook altyd so klinies."
Die kamp het in ‘n heerlike ontspanne atmosfeer plaasgevind. Daar was lekker laat geslaap in die oggende en tot laat in die aande om vuurtjies gekuier. Oor die slimmighede en kwinkslae wil ek my nie uitlaat nie.
Daar was nie net gekuier nie. Besprekings het plaasgevind rondom ‘n visie vir die Dopperparlement. Dit blyk duidelik uit die bespreking dat hierdie groep jong gelowiges die uitdagings wat hulle omgeef, aanvaar. Die identitieit van die GK Lyttelton se Dopperparlement is finaal gevestig. Ons het hier te make met jongmense wat geen twyfel het oor waar hulle vandaan kom nie en nog minder oor waarheen hulle op pad is.
Nog 'n ernstige vraagstuk was die handhawing van jouself as gelowige in die werksomgewing. Praktiese riglyne is uitgewerk oor wat jou te doen staan wanneer God se naam ydellik gebruik word, hoe hanteer jy konfrontasie en straal jy jou lewensvreugde uit as gelowige? Selfs die sg “Big Bang Theory” is ontleed en aan die hand van Genesis 1-3 hanteer. Die gevolgtrekking is dat soos die naam aandui, dit slegs ‘n teorie is. Die slotsom van die gesprek was dat jou pad duidelik is en dat jy nie moet huiwer om die evangelie uit te dra nie. Moet egter nooit konfronteer nie.
En dan was daar die blokkiesraaisels. Die eerste het oor algemene kennis van die Bybel gegaan en die tweede oor Openbaring 1-5. Die wedywering was hoog en die Bybels se bladsye het geflits soos daar na antwoorde gesoek is.
Elke dag is daar huisgodsdiens gehou en saam gesing. Die twee etes per dag was ‘n belewenis op sigself. Almal het deel gehad en daar was nie sprake van lyf wegsteek nie.

DrukE-Pos

FaLang translation system by Faboba